Abstract taken from Opsommings, Bloemfontein, 1983, pp. 164-165:
By die bepaling van die weibare opbrengs het dit geblyk dat die waardes wat met die polkniptegniek verkry is, te hoog was. Die resultate wat met die kwadraatkniptegniek verkry is, het goed vergelyk met waardes wat elders in soortgelyke habitats bepaal is. Die Anthephora pubescens-Eragrostis superba-grassavanne lewer die hoogste weibare opbrengs (946 kg ha -1) in die wildtuin. Volgens die drakragbepalings kan die Terminalia sericea-Melhania acuminata-boomstruiksavanne die meeste diere onderhou, terwyl die wildtuin in die geheel ongeveer 2000 grasvreters kan dra
Die voelselvoorkeurstudie van die eland het aangetoon dat hoewel hierdie diersoort 'n selektiewe vreter is, dit tog 'n wye reeks plantsoorte benut (42 soorte). Dit was opvallend dat die eland tydens die wintermaande meer kruide asook blare van die grond af vreet. Plantsoorte wat hoog op die voorkeurlys is, is Terminalia sericea en Lonchocarpus nelsii. Volgens die weibare opbrengs van hierdie sleutelweiplante van die eland is die bosryke Terminalia sericea-Melhania acuminata-boomstruik-savanne as die beste elandhabitat in die Water bergplato park geklassifiseer
Ten slotte is daar met die beskikbare inligting aanbevelings gedoen om die toekomstige bestuur van die wildtuin op 'n wetenskaplike basis te plaas